Site Map | Home

Op reis in Amerika met Gert Vlok Nel in die CD speler


Daar staan twee dinge op die CD omslag geskryf waaroor ek wil muse. Die dankie nota begin met iets soos “Iets soos hierdie kom oor 'n lang tyd aan”.
(Om hierdie tipe opname projek aan te pak is soos om 'n memoir te skrywe. Ek is juis besig om Pablo Neruda se wonderlik en inspirerende woorde oor sy fassinerende lewe te lees).

Ek sit hier op Betty's Baai by die familie strandhuis en skryf, die dae vol van die see, die son en die wind. Son, see en wind was was dan ook van die laaste woorde tot my voorwoord tot die CD, en my tweede gedagte aan 'n aansluiting vir hierdie gedagtes. Vir my begin en eindig alles altyd met die bewussyn van die elemente, die bewussyn van vryheid en gebondenheid en die uitdrukking daarvan teenwoordig in winde wat dwarsdeur mens se kop waai en eindelik neerslag vind in 'n gedig, 'n simfonie of wat selfs in 'n blombedding opgetower kan word.

“Rivier O rivier” sing Gert. Sy ervarings vloei soos 'n teerpad deur die dorpe, stede en plekke langs die nasionale pad, 'n reistog van swaarbelaaide en betekenisvolle plekname wat elke luisteraar op sy eie herrineringstog neem. Met 'n onlangse reistog deur die VSA het die westerse universele betekenis van die lang pad, en die motor en sy insittendes ala Springsteen en Steinbeck en Karouack my opnuut getref. “Rivier” is indien nie die enigste, of die beste road song in Afrikaans ten minste die langste road liedjie.

Gert se liedjies is maar aan die lang kant. Sy twee songs op die CD beslaan sowat 30% van die spellengte van die album! Daarom dat ek en Christa, totaal onder die invloed van sy sagte stortvloed vol gentle en sad woorde en beelde, vir omtrent 30 myl op 'n verkeerde highway gereis het sonder om dit agter te kom. Ek en Christa is op pad na San Fransico, “to see the girl with flowers in her hair”. Ons sing al die liedjie vanaf New Orleans, maar veral aan die einde van die Rockies. Gert is die enigste ander persoon wat ek ken wat weet dat daardie liedjie deur Scott McKenzie geskryf, of gesing was.

Christa is die enigste persoon wat ek ken wat weet hoe baie hierdie reis vir my beteken het, die voltrekking van jare en jare se droom om per motor oor die wonderlike en wye Amerika te reis.
Ek onthou die woorde in brief van my ou vriend Anton getitteld 'Visioene van ware liefde so 45 kilometer suid van Barclay Wes'. Soms is daar sulke helder oomblikke van bewussyn wat 'n taal kan laat uitswel tot klanke,s soos in Bob Dylan se beeld en kadens kombinasies, oomblikke wat veel groter is as die land of die pen waarvandaan dit afkomstig is.

Anderdag op televisie het ek 'n grepie van 'n Beach Boys dokumentêr gesien. Daar was 'n skoot van perderuiters by Big Sur, op die Kaliforniese kus waar die groep gaan woon het vir inspirasie. Talle legendes van die letterkunde en musiek wereld het daar gewoon op een of ander stadium. Ek dink Arhur Miller, die playwright, was een. Of was dit Henry Miller? Kalifornie, dié met 'n 'k' , nie 'n 'c' soos in Engels nie, soos in Afrika, met 'n 'k', verleen aan hierdie reeds magiese woord nog groter wonder.

Betty's Baai - Januarie 2001

Hierdie stuk verskyn, tesame met die oorspronklike album notas deur Gert Vlok Nel as 'Oor Sonvanger,'n "road" essay' op die Afrimusik blaaie.




Contact Johann / Conservation / Live / Music / Mp3's / Spoken Word / Writing / Yoga


Copyright, credits, website management and hosting