| Site Map | Home | |
Na ‘n ander wêreld
(Soos verskyn op LitNet, Mei 2000)
Stellenbosch. Kayamandi.
Vredehoek. Nyanga.
Teenoorgestelde pole, een dorp, een stad.
Hoeveel van “ons” was al daar?
Hoeveel van “ons” kom ooit uit by “die ander mense” se plek.
En waarom nie?
Ek het al vir Abaqondisi in die Endler saal sien optree
Op die onlangdse Woordfees op die dorp was hulle ook daar met hulle acapella aanbieding. Hulle het reeds by ‘n funksie vir Mandela gesing, binnekort is dit London toe vir ‘n fees. Maar sal hulle ooit dieselfde klink as daar tussen hulle eie mense teen die hang van die heuwel net buite die dorp op pad na die N1?
Is die ernstige navorser nie verplig om die plek van oorsprong van die ondersoekte werk te besoek nie? Om die agtergrond van die landskap in te neem, om met die mense daar kontak maak nie? Weer: hoeveel van “ons” het ‘n benul van hoe die grootste deel van van “ons” bevolking werklik lewe?
Vandag se ontwikkelde gemeenskappe is ‘n wonderlike wereld vol van geleenthede waar informasie en kennis geweldig bekombaar is. Hierdie wereld is in der waarheid tot oorlopends toe vol van geleenthede, soveel so dat groot dele van ons menswees in die proses leegloop. Leegloop van ware ondervinding, die regte lewe. Nie die een wat ons in die nuus lees nie, op die internet of tv aantref nie, by ons daaglikse werk ervaar nie, maar die lewe wat ons aantref teen sononder. Daardie magiese oomblikke wanneeer alles stil word op die strand en die branders se geluid al hoe harder word. Of wanneer mens so verlore raak tussen die blaaie van ‘n boek dat jy van die wereld om jou vergeet, of voor ‘n lied of skildery te staan kom wat jou intrek en binnetrek - om die mure om die innerlike landskap weg te blaas. Oomblikke wanneer selfs iemand soos ek - ‘n aties by algemene standaarde - ongelooflike gevoel van geloof ervaar wanneer die Abaqondisi Brothers ‘n gospel lied sing. Hierdie goed gebeur somes wanneer ons uitstap in ‘n wereld wat anders is as die een waarin ons daagliks beweeg. Wanneer ons ons buite die gewone wentelbane van ons sosiale lewens en werksomgewing begewe.
Hoe arm is ons lewens dan nie wanneer ons nie hierdie moeite aangaan nie, wanneeer ons lewens van buite net so leeg raak as die inhoud van alles in die media wat net dieslfde beelde reflekteer waarmee ons onself omring. Wanneer ons in boksies lewe wat presies dieselfde verpak is as die verpakking en handelsnidentiteit wat die bemarkers daarvan deur die media ons lewens daarmee beswadder en besweer.
Duidelik het mense hierdie behoefte aan ‘regte’ervaring - die oorweldigende reaksie van die gehoor by die konsert is getuienis daarvan. Hoeveel keer gun jy jouself die geleentheid om uitbundig hande te klap en voete te stamp, of vir ‘n stil oomblik te luister na die klank van stemme wat iets reflekteer wat net nie op cd’s of deur ander indirekte meduims ervaar kan word nie. Oomblikke wanneer die somtotaal van die ervaring bepaal word deur die elemente teenwoordig en dan soos ‘n wonderwerk die samevoeging daarvan oortref om ‘n verskuiwing van innerlike ervaring te laat plaasvind.
Dink bietjie ‘n bietjie daaroor na en plaas jouself vir ‘n paar minute in ‘n wêreld waar die natuurlike hulpbronne reeds opgedroog het. Of daar waar die ekonomie Groot Depressie jare Steinbeck karakters van ons almal gemaak het – gelykgeveeg met een klap, almal met ewe min krediet. Aangewese op mekaar vir oorleweing, sonder groot motors en huise met foefies en elektriese kombuise. ‘n Werklikheid buite ons realitiet waarin die groter deel van ons planeet se bevolking daagliks woonagtig is.
Stap dan uit in die wêreld om jou en kyk opnuut om jou rond, kyk of daar dinge is wat vir jou vars en nuut is.
Die aand in Kayamandi was vol van daardie oomblikke.